Peter Sutcliffe | ||
Gebore | 2 Junie 1946 | |
Oorlede | 13 November 2020 | |
Rede vir dood | Koronavirussiekte-2019 | |
Land | Brittanje | |
Bynaam | Yorkshire Ripper | |
Misdaad | Reeks moorde | |
Misdaadbesonderhede | ||
Plek | Yorkshire, Engeland | |
Datum(s) | 1975-1980 | |
Slagoffers | 20 | |
Getal gedood | 13 | |
Getal beseer | 7 | |
Metode | Met hamer, messe aangeval | |
Vonnisbesonderhede | ||
Aangekeer | 2 Januarie 1981 | |
Vonnisdatum | 22 Mei 1981 | |
Vonnis | Lewenslange tronkstraf | |
Vrygelaat | Nooit |
Peter William Sutcliffe (2 Junie 1946 - 13 November 2020) is ’n Britse reeksmoordenaar wat tydens sy misdaadveldtog deur die pers die Yorkshire Ripper gedoop is. Hy is in 1981 skuldig bevind aan die moord op 13 vroue en aan poging tot moord op sewe ander.
Sutcliffe het gereeld van die dienste van prostitute in Leeds en Bradford in Wes-Yorkshire gebruik gemaak. Dit lyk of sy woede-uitbarsting teenoor hulle ontstaan het weens rusies oor betaling, maar hy het later beweer die stem van God het hom opdrag gegee om die moorde te pleeg.
Hy het die moorde oor ’n tydperk van vyf jaar gepleeg. Toe hy in Januarie 1981 in hegtenis geneem word omdat hy met vals nommerplate gery het, het die polisie hom ondervra oor die moorde en hy het erken hy is die moordenaar.
Met sy verhoor het Sutcliffe skuld aan moord ontken op grond van verminderde aanspreeklikheid vanweë ’n diagnose van skisofrenie, maar sy pleit is verwerp. Hy is gevonnis tot 20 vonnisse van lewenslange tronkstraf wat gelyktydig uitgedien word. Hy het ná sy skuldigbevinding sy ma se nooiensvan begin gebruik en Peter William Coonan geword. ’n Hof het in 2010 ’n aansoek van Sutcliffe om die vasstelling van ’n parooldatum afgekeur, en bepaal dat hy ’n volle lewensvonnis sal uitdien en was dus nooit vrygelaat nie.